Toewyding van Kinders

Toewyding van ’n kind

Dit is wonderlik dat jy as ouer belangstel om jou kind aan die Here toe te wy! Dit is beslis ‘n wonderlike voorreg om ‘n kind te kan grootmaak, maar dit is ook ‘n groot verantwoordelikheid. Daarom kies ouers om hul kinders aan die Here toe te wy en hulle afhanklikheid van die Here en sy mense hierin te erken. Die Here plaas mense en geestelike instansies op ons lewenspad om ons as ouers te help in die geestelike versorging van ons kinders.

Die doel van die Toewyding is vir ouers om hulle kind voor die Here en die gemeente te bring en 'n openbare verbintenis
te maak om die Here se wysheid en genade te soek om hulle verantwoordelikhede as ouers na te kom,
maar ook om hulle afhanklikheid van res van die liggaam van Christus (die kerk)
te erken ten einde hulle roeping en verantwoordelikheid as ouers te kan vervul.

Psalm 127:3(DB):  “Kinders is 'n wonderlike geskenk van die Here, hulle kom direk uit die Here se hand.”

Die Toewyding is 'n geleentheid om die Here te dank vir die geskenke wat Hy vir ons gegee het. Dit is 'n geleentheid om die goedheid en soewereiniteit  van die Here te vier wat julle as ouers gekies het om hierdie kind groot te maak. Dit is ook 'n geleentheid waar ouers hulself kom verbind om 'n huis te skep en 'n leefstyl te leef wat as voorbeeld vir hulle kinders sal dien oor hoe dit lyk om Jesus te volg. Dit is 'n toewyding aan die Here om hulle kinders te leer wat die beginsels van God is, dat die Bybel waar is, die belangrikheid van 'n geloofsgemeenskap en om hul kinders te leer dat ons uit genade deur geloof in Jesus Christus gered kan word.

Ouers vra die Here om leiding, seën en beskerming.
Die ouers verklaar dat hulle in ‘n verbintenis met die Here en Sy Woord wil lewe en hulle kinders met

Sy liefde en genade wil grootmaak.
Ouers maak die keuse en verbintenis om soos Josua van die Bybel uit te roep: 

“Ek en my huis, ons sal die HERE dien” (Josua 24:15 (AFR53)).

Ouers se toewyding

Tydens die diens beloof ouers voor God, hul familie en die kerkgemeenskap om hulle kinders groot te maak om die Here te eer.
Omdat ouers die belangrikste rolspeler in 'n kind se lewe is, vra ons ouers om hulself aan die volgende te verbind voordat hulle hul kinders toewy aan die Here:

Ouer(s) het 'n persoonlike verhouding met Jesus Christus.

Ouer(s) is gereelde besoekers van Bloemfontein Baptiste Kerk en volg Jesus in hul persoonlike lewe.

Ouer(s) stem saam met ons kerk se geloofsoortuigings en waardes wat hier gevind kan word:

Ouer(s) verbind hulle om 'n voorbeeld van persoonlike reinheid te stel en lei deur 'n voorbeeld vir hulle kinders in geloof en optrede. Dit beteken om 'n lewe van reinheid te leef volgens God se standaarde.

Algemene Vrae

Moet ek 'n lidmaat van die kerk wees om my kind toe te wy?

Jy hoef nie 'n lidmaat van die kerk te wees om jou kind toe te wy nie, maar ons sal verkies dat Bloemfontein Baptiste Kerk jou geestelike tuiste is omdat jy in die Toewyding jou daarin verbind om in vennootskap met God en die Kerk jou kind groot te maak met God se bedoelings. As jou kerkfamilie is ons hier om jou te help met hierdie taak en om jou te ondersteun om jou kind God se beginsels te leer.

Is die Toewyding dieselfde as die doop/besprinkeling?

Bloemfontein Baptiste Kerk glo dat die doop slegs vir persone is wat reeds 'n persoonlike keuse gemaak het om Jesus aan te neem vir verlossing, en wat die volwassenheid en begrip het om te begryp wat dit alles behels.
 
Die Toewyding van kinders is nie 'n sakrament nie en dit bewerk ook nie genade of verlossing vir 'n kind nie, en dit maak hulle nie deel van die Nuwe Verbond nie. Verlossing is alleen deur geloof in Jesus Christus as Verlosser en Here van hul lewens soos elke persoon hul sondigheid erken, en dan vergifnis en die ewige lewe ontvang deur Jesus en sy werk aan die kruis.

Ons moedig eerder die Toewyding van kinders aan as om kinders te besprinkel. Die Toewyding is 'n openbare seremonie waar ouers verklaar dat hulle hul kinders volgens die Bybel en die weë van die Here wil grootmaak, asook vir God vra om hulle te help en hulle kinders te seën.

Wanneer is daar Toewydingsgeleenthede by die kerk?

Daar is gewoonlik twee geleenthede per skoolkwartaal vir Toewyding. Kyk gerus na die kerk se kalender op die kerk se app of kontak die kerkkantoor vir meer inligting. Vul gerus die onderstaande vorm in en ons kontak jou graag.

Wat kan ons verwag by 'n Toewyding van kinders?

Die Toewyding geskied tydens sekere Sondae oggenddienste by die kerk. Ons as gemeente sal saamsing en daarna sal ons 'n klein seremonie hê waar ons verduidelik wat die Toewyding is. Ons sal ouers en hulle kinders na voor in die kerk nooi waar ouers hulself in die openbaar verbind om hulle kinders te help groei in hul geloof, en om 'n huis te skep wat rondom Jesus gesentreerd is. Ons span sal die kinders en hulle ouers verwelkom en vir die gesin/familie bid. Ons gee ook 'n klein geskenkie vir elke kind. Daarna sal ouers kan gaan sit en die diens sal verder voortgaan. Ons besprinkel nie die kinders nie.

Kan ‘n enkelouer deelneem aan 'n Toewyding?  

Beslis! Die toewyding van kinders dui op die verbintenis van ouers, insluitend enkelouers, om hulle kinders groot te maak om 'n volgeling van Jesus te wees. Ons moedig enkelouers aan om belangrike persone in die kind se lewe in te sluit by die Toewyding.

Kan ‘n ongetroude paartjie/ouers deelneem aan 'n Toewyding?

Die Toewyding is 'n verbintenis van die ouers om hulle huis in te rig en 'n omgewing te skep waar hulle kinders kan leer wat dit beteken om 'n volgeling van Jesus te wees en waar hulle grootgemaak word om Jesus sentraal in hulle lewe te plaas.  As ongetroude ouers sal ons julle aanmoedig dat die eerste stap wat julle kan neem, om 'n huis te skep waar Jesus sentraal is, om te trou. Dit is die wil van God – Hy is vir die huwelik en het dit ingestel. Daarna kan julle die stap neem om hierdie openbare verbintenis aan God en sy gemeente te maak deur die toewyding van julle kinders.

Vul gerus hierdie vorm in en ons kontak jou graag

Name van ouers:

Naam van Kind(ers)