‘n Voëltjie Het So Gesê

Ek hoor nou die dag die volgende verhaal. ‘n Man sit saam met sy gesin voor hulle chalet en bewonder die natuurskoon waar hulle gaan ontspan het vir die naweek. Meteens hoor hy 'n vreeslike harde slag! Toe hy om die chalet stap sien hy 'n duif op die grond lê wat teen die venster vasgevlieg het. Hy het nog beweeg, maar dit was duidelik dat sy nekkie gebreek was. Maar die mees ongelooflike toneel speel toe voor hom af. 'n Klein Janfrederik voëltjie het al om die duif gewip en geluide gemaak. Eers het hy opgefladder en dan het hy weer gaan sit terwyl hy aanhou geluide maak. Hoewel die man baie naby was het die voëltjie nie weggevlieg nie, inteendeel, dit het gelyk of hy hulp gesoek het. So asof hy wou sê: “Mens, help hierdie duif. Kan jy nie sien hy het seergekry nie?” Hy het lank so rond gewip en geluide gemaak en eers toe die duif sterf het hy weggevlieg. Dit was blykbaar ‘n aangrypende toneel. Min mense het al die voorreg gehad om te sien hoedat een voël 'n ander een probeer help.

Een baie duidelike boodskap wat ons uit hierdie insident kan leer is dat, as 'n voëltjie hom kan ontferm oor 'n ander een, ons onsself beslis behoort te ontferm oor ons medemens.

Spr. 3:27 "Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toe kom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie."

Dalk was daardie voëltjie oortuig dat dit in daardie man se mag is om te help en al kon hy nie, lyk dit of hy aanhou probeer het. Ons spreek onsself dikwels uit oor mense wat hulpbehoewend is, maar wat nie wil werk om hulle eie lewens beter te maak nie. Maar soms kán mense nie werk nie, tydelik of permanent. Ek weet van iemand wat nou bykans totaal bedlêend is, maar die Here gebruik hom op wonderlike maniere as berader en in soortgelyke bedieninge. Hy is egter nie in staat om ‘n inkomste te verdien nie en mense wat op sy pad gekom het help hom. Verder weet ek van 'n predikant wat sy werk verloor het a.g.v. besnoeiings by 'n gemeente, maar hy het aanhou bedien en mense help hom nou finansieel. As ons nie ander mense wil help nie is dit die maklikste ding in die boek om ‘n verskoning uit te dink wat ons sal laat beter voel. Maar die Here verwag meer. Hy verwag dat ons ons seëninge moet uitdeel. Jy ken die beginsel van "pay it forward"? As die Here dit in 'n voëltjie se hart kan sit om 'n ander een te help, hoeveel te meer nie tussen ons as mense nie. Ons is daar om mekaar te help. 'n Voëltjie het so gesê.