Praat aAltyd net die Waarheid

Ek het die fliek “Liar Liar” baie geniet en het dit al ’n paar keer gekyk. Dis nou Jim Carrey op sy beste. Hy is ’n prokureur wat op leuens floreer en nie eens die beloftes wat hy aan sy seuntjie maak kan nakom nie. Dan maak sy seuntjie met die uitblaas van sy verjaardagkoek se kersies, ’n wens dat sy pa vir ’n dag lank nie moet kan jok nie, met skreeusnaakse gevolge. Dit leer hom vinnig om die waarheid te begin praat!

As ons maar só ’n wens kon maak vir die mensdom! As elkeen van ons maar net die waarheid sal praat, sal daar soveel minder ongelukkigheid, soveel minder misverstande, soveel minder probleme wees, soveel minder verkeerde verwagtinge wees. As almal maar net by die basiese reëls van die samelewing kan hou sal dinge soveel minder gekompliseerd wees. As almal hulle beloftes kan nakom sal verhoudinge wonderlik wees en sal probleme in die werkplek makliker opgelos kan word. Spreuke 4:24 en 6:17 sê dat jy jou moet weerhou van leuens, want die Here haat ’n tong wat lieg!

“One thing you can give and still keep is your word.”